Skip to content

Betoging-geweld kring ál wyer uit

Saturday, October 17, 2009 - 08:22

Jy kan nie jou eie town-ship afbrand en verwag die president (Jacob Zuma) moet jou kom sien nie.

So het mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, gisteroggend aan Beeld gesê.

Gewelddadige betogings het dié week gemeenskappe op plekke in Mpumalanga en Gauteng tot stilstand gebring.

Betogers het chaos gesaai in Sakhile buite Standerton, Belfast en Nelspruit in Mpumalanga, Palm Ridge in Alberton, en Diepsloot, noord van Johannesburg.

Zuma self het deur sy woordvoerder gewelddadige betogings teen swak dienslewering veroordeel.

Zuma het by monde van mnr. Vincent Magwenya gesê daar is ander maniere as geweld om hul probleme op te los.

“Daar is geen verskoning vir die gewelddadige optrede en verwoesting van eiendom nie,” het Magwenya gisteraand aan Beeld gesê.

André Damons berig uit Standerton in Mpumalanga twee adjunkministers het gister as lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) by die munispale kantore op dié dorp met plaaslike raadslede en gemeenskapsleiers van Sakhile vergader – maar nie self die massas toegespreek nie.

Mnre. Fikile Mbalula (polisie) en Malusi Gigaba (binnelandse sake) het later aangedui die ontevredenes sal geduldig moet wag op antwoorde oor die diensleweringsgriewe waaroor hulle al langer as drie weke betoog.

“As ons ons ondersoek afgehandel het en die verslag opgestel het, sal ons terugkom en sê wat is waar en wat is nie,” het Mbalula op ’n mediakonferensie ná dié vergadering gesê.

Inwoners eis die kop van me. Queen Khumalo-Radebe, burgemeester, en ander raadslede weens swak dienslewering en die verdwyning van R30 miljoen.

Twee raadslede het reeds bedank.

“Die betogings is nie spontaan nie en is beplan en georganiseer.

“Dit is nie asof dit in ’n sjebien bespreek is nie. Ons moet begin verstaan hoekom die mobilisering om van mense ontslae te raak nou plaasvind,” het Mbalula gesê.

Hy het gesê die mense moet geduldig wees sodat die ondersoek afgehandel kan word en dat hulle nie hul ongeduld met verwoesting moet wys nie.

“Hoekom het hulle so lank gevat om die mense aan te kla teen wie die bewerings gemaak word? Ons sal nie bang wees om teen die leierskorps op te tree as ons bevind dat hulle oortree het nie.

“Daar sal na elke besluit van die stadsraad gekyk word,” het Gigaba gesê.

Mbalula het die plaaslike raad gekritiseer omdat hulle nie met die gemeenskap gekommunikeer het nie.

Die gewelddadige betogings kan die legitimiteit van die staat ondermyn, meen mnr. Joel Ne-tshitenzhe, senior ANC-lid.

Hy het gister top-partyleiers op die vergadering van die ANC se Gautengse uitvoerende komitee in Benoni toegespreek.

“As dit (gewelddadige betogings) herhaaldelik gebeur en dit word die reël eerder as die uitsondering, sal dit die legitimiteit van die staat ondermyn,” het hy gewaarsku.

Volgens Netshitenzhe is dienslewering en gewelddadige betogings een van die regering se grootste uitdagings.

Hy meen die polisie moet oortreders vasvat en kommunikasie tussen die regering en gemeenskappe moet verbeter word.

Netshitenzhe erken sommige gemeenskappe het gronde vir hul ongelukkigheid oor diens-lewering en dat sommige ANC-lede en sy alliansievennote vir die probleme verantwoordelik is.

Zuma sal op 20 Oktober met burgemeesters en munisipale bestuurders van die 283 plaaslike owerhede vergader.

 

- Beeld